Inhoud van my geloof
It is so easy to say "I believe". The real question however is; what do you actually believe? What is the content of your faith? In a post-modernistic and information age, coupled with more and more people who feel that their faith has reached a stage where the traditional confessions might not fully express their believes, it might just be a valuable exercise to sit down and really think about the content of your own belief system. (English version)
Ek is ‘n voorstaander daarvoor dat die inhoud van ons geloof duidelik gedefinieer, verwoord moet word. Want dis in ‘n sekere sin maklik om te sê ek glo…..maar presies WAT glo jy? Soos ‘n Nederlandse teoloog, Bram Tack, in Kerk Informatie skryf: “Christelijk geloof staat of valt met de inhoud“. So, wat is die inhoud van ons geloof?
Ek is seker mense sal verskillende “inhoude” gee aan hulle geloof. Sommige sal sê dat vergifnis uit genade is die inhoud van die Christelike geloof; ander, die wat konsentreer op die lyding van Christus, sal Jesus se lyding en kruisdood as die inhoud van hul geloof beskryf. Nog ander, en ek hou nogal van hierdie een, sal die opstanding die inhoud van hul geloof beskryf. Ander dalk Jesus se menswording; die 10 gebooie, God se uitverkiesing ens.
Hoekom hou ek van die opstanding van Christus as die inhoud van my geloof? Want soos Paulus in 1 Kor 15 skryf, sonder die opstanding is ons geloof nutteloos! Die opstanding bepaal die oorwinningsperspektief op die lewe. Dis oor die opstanding dat ons die duiwel en sy aanslae kan oorwin; dis oor die opstanding dat ons hoop en sin in die lewe het. Jesus se kruisdood sou verlossing bring, maar sonder die opstanding sou ons nog steeds vir die “dood” bestem gewees het; Jesus se opstanding het finaal die duiwel en sy laaste wapen oorwin: dood, waar is jou angel!
Maar naas die opstanding, gee Bram Tack hierdie 4 woorde as die inhoud van Christelike geloof. En ek dink dit is ‘n uitstekende samevatting sonder om een spesifieke tema te verabsoluteer.
- Skepping:
Die wete dat God alles geskep het, en dat Hy ook die HERskepper is; dat Hy ook alles in stand hou en dinamies aktief betrokke is en bly by Sy skepping (dit beteken natuurlik jou persoonlike lewe ook), is ‘n ongelooflike troos! ‘n Verdere implikasie van “skepping” is dat ‘n mens ook gedwing word om te besef dat die aarde ook grense het en daarom ook met verantwoordelikheid “gebruik” en bestuur moet word. - Bevryding
Behalwe dat God ons bevry het uit die “kloue” van die duiwel, bied hierdie perspektief ook ‘n blik op persoonlike bevryding en heling van dit wat ons vashou aan die verlede en ons van ons oorwinning beroof. Bevryding maak ons bewus van die bevrydende krag van God se genade. - Menswording
Natuurlik! Sonder die menswording van God in en deur Sy Seun, Jesus Christus is daar nie veel nie. Die menswording spreek van die neerdaling van God na die mens; van God wat empatie met die mens het; so lief is vir die mens dat Hy self hiernatoe kom om verlossing te kom bewerkstellig. En natuurlik roep die menswording ons ook op tot begrip en empatie met ons medemens. Die menswording vertel die verhaal van Jesus se koms as Christus tot ons verlossing! - Versoening
Versoening is vir my ‘n onontginde begrip in die Bybel en in prediking. Paulus skryf maar min direk oor versoening (2 Kor 5), maar as ‘n mens mooi dink oor die evangelie, dan spreek dit boekdele oor versoening: versoening wat bewerk is tussen God en mens, tussen mens en mens. Aan ons is die bediening van versoening toevertrou. Jesus se kruisdood en opstanding was die grootste versoeningsdaad “ever“. En hoe skiet ons nie tekort in die bediening van versoening nie. Moet die kerk nie op die voorpunt staan van die bediening van versoening tussen mense nie? Kyk hoe sukkel ons met eenheid onder mekaar, met Belhar ens.
Watter inhoud jy ookal wil gee aan die inhoud van jou geloof; ek is seker dat ‘n mens sekerlik saam kan stem dat hierdie 4 woorde grootliks saamvat wat soos ‘n goue draad, deur die Bybel loop! God se liefde vir die mens …. skepping, bevryding, menswording en versoening! Hoe gee jy inhoud aan hierdie 4 woorde?
###