Genade en die gans andere God
Ek wil iets oorkom as ek hoor iemand praat van God as “die ou man daarbo“… so asof God deterministies die skepping “gestart” het en nou, soos ‘n afgetrede ou man maar net sit en kyk hoe hierdie “bal hardloop”; asof Hy niks meer kan doen aan die gang van Sy skepping nie. Hierdie soort beelde oor God gaan gewoonlik ook saam met ‘n beeld van God as ‘n polisieman, as ‘n pretbederwer; iemand wat met ‘n wakende oog oor ons wag hou … net om ons te “zap” as ons iets verkeerd gedoen het.
Hierdie beskouing oor God verklap gewoonlik hoe ons oor God dink, trouens, dit verklap gewoonlik dat daar eintlik nie sprake is van ‘n persoonlike verhouding met God nie…. eerder dat God iets (met alle respek gesê) is daarbo; vêr weg van ons af en min gepla met wat eintlik hier met ons lewe aangaan. Iemand het dan ook eendag gesê, ons moet God tog nie lastig val met ons gebede oor alledaagse “klein” dingetjies nie; dit is ons eie verantwoordelikheid. God het baie groter dinge om oor “bekommerd” te wees. Betty Midler het ook mos ‘n liedjie gesing: “From a Distance“.
Vir MY is God nie “from a distance” nie; nie Iemand wat daar vêr, ongehinderd en ongestoord maar net toekyk na hoe die lewe vir ons ontvou nie. Vir MY is Hy ‘n ongelooflike, Gans Andere Skeppergod, maar terselfdertyd my Vader (pappa) en elke oomblik dinamies en aktief betroke en besig in en met my! Wat ‘n ongelooflike bevrydende en vertroostende gedagte!
Kom ons verklaar ‘n paar dinge oor God:
- Hy is die Skeppergod wat elke sekonde aktief betrokke is by Sy skepping (onder wie ons as mense ook tel!), en wat aktief elke sekonde ook her-skeppende te werk gaan en dinge, veral konsekwensies van sonde in my lewe, herstel (DV). Die grootste hiervan was natuurlik toe Hy die gebroke verhouding tussen Hom en my deur Jesus se kruisdood herstel het en my lewe herskep het!
- Hy is verder ook my (ons) Vader wat die mens ongelooflik lief het….so lief dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het as losprys vir ons sonde. Die kruis is God se bewys van Sy liefde vir ons! Hierdie liefde maak dat God NOOIT opgee op ons nie; nog altyd die mens opsoek, al soek ons Hom nie meer nie; of al kruip ons weg vir Hom vanwee ons sonde. Soos in die paradys, is dit God wat die mens weer opsoek…..
Goed, so watter implikasies het hierdie feite oor God t.o.v. ons lewe? Die mooiste beeld vir my is die beeld van die oorwinningslewe! Ons het reeds deel aan die oorwinning in Christus en daarom kan ons ‘n oorwinningslewe leef. Ek onthou hoe o.a. Prof Danie se “groen mamba” hierdie feit vir my oopgebreuk het; en die ongelooflike WOW toe ek die realiteit en konsekwensies daarvan besef het! En in die jare wat gevolg het, en die selfondersoek en worsteling met my eie swakhede; hoe hierdie feite jaar na jaar vir my ‘n groter realiteit geword het! En ja, ongelukkig moet ek 20+ jare later sê, min mense ervaar dit omdat, soos ek hierbo gesê het, te veel mense ‘n verkeerde beelde oor God ontwikkel het. So, watter implikasie het dit (dat Hy Vader is, dat die verhouding herstel is; dat Hy lief is vir my): - Ons verhouding met God is in Christus HERSTEL! Weet ons wat dit beteken? God kyk nie meer na ons in ons sondigheid nie, maar deur die bloed van Jesus. Die gebroke verhouding is herstel….dis asof Eva glad nie die appel geeet het nie Ja, nou is hy weer ons Vader. Miskien moet ek hier gou iets byvoeg….. miskien is die rede vir ons “swak” beeld oor God gekoppel aan ‘n swak vader-beeld. Kom ek stel dit positief… hoe beter ervaring en beeld ‘n mens het van jou eie Vader, hoe makliker is dit om God se Vaderskap te aanvaar EN te geniet! Floyd McClung (ek dink – the Father heart of God) het geskryf hieroor en sê dat jou aardse vaderbeeld direk gekoppel is aan jou beeld van God as Vader. So, Hy is my Vader….en as jou aardse vader jou “hero” is, wonderlik….en as jou aardse vader jou teleurgestel het…. Hy is alles wat jou aardse Vader dan nie is/was nie! Het ons al gedink oor die effek van egskeiding en afwesig/besige vaders op die “vaderbeeld” van kinders….?
- Hierdie wete verander die kwaliteit van ons lewe, want ons is nou in ‘n herstelde verhouding, God se kinders. Ons het nou deel aan die Drie-enige God, wat verder beteken dat Hy in my woon deur die Heilige Gees – Immanuel God.
- Dit beteken ongelukkig nie dat alles voortaan reg, goed, probleemloos sal verloop nie. Nêrens word dit aan ons beloof nie, wel dat God ALTYD dáár sal wees; altyd ons sal vashou, sal troos en bemoedig, altyd BY ons sal wees. So baie keer is mense kwaad vir God omdat dinge nie verloop soos húlle gedink het dit behoort te verloop nie; of omdat iemand na aan hom/haar dood is; of siekte, pyn lyding…. Hy is nie my Vader en by my net wanneer dit goed gaan nie, of wanneer ek “goed” voel nie. Ook in my donkerste, nee, JUIS in my donkerste uur is God daar om my vas te hou, my te troos, die trane af te vee! Hy is my Vader omdat Hy God is! Omdat die verhouding herstel is; omdat ek Sy kind is! Geloof, godsdiens, verhoudings-geloof is nie ‘n towerstaf vir elke moeilikheid wat my pad kruis nie! Geloof is om uit genade te leef!
- Dit beteken ook dat God my Vader is en bly in my eie gebrokenheid, sondigheid! Dit beteken dat ek steeds God se kind bly, dat die verhouding herstel BLY ten spyte van my gebrokenheid. So dikwels hoor ‘n mens dat gelowiges dink….. nou’t ek weer gesondig, nou is ek nie meer God se kind nie; Hy is nie meer by my nie; ek het dit alles verloor…… Dit is nie waar nie! Dit is ‘n teken van ‘n verkeerde sondebegrip….. so asof sonde “eksterne” dinge is wat ek nie veronderstel is om te doen nie en wat ek een-na-die-ander kan afhandel; so asof ek ooit op ‘n punt kan kom waar ek geen sonde meer doen nie. Sonde is nie iets nie; EK is sondaar, ek is van nature in sonde gebore; dit vloei deur my are, voor EN na Christus. Sonde is nie, soos EE3 sê, 3 goed wat ek per dag doen wat optel tot ongeveer 1000 per jaar en dus 30,000 as ek 30 jr oud is nie; en dat ek eenvoudig hierdie getal moet afkry nie…..en dalk eendag by 0 kan uitkom nie. Dit lei tot hoogmoed; tot ‘n verkeerde siening dat ons actually al minder sonde het as, byv. my broer langs my (geestelike hoogmoed). Nou wat is die verskil dan? Ek en ‘n ongelowige is wat sonde betref, gelyk voor die Here….die verskil is: die gesindheid, die pyn om voor God te gaan staan en sê: Vader, ek is jammer! Ek het alweer geval, vergewe my! Dit sal jy die ongelowige nie sien/hoor doen nie! Inteendeel, dis asof die sonde hand-oor-hand toeneem en erger word by die ongelowige…
- So, ons verhouding met God in en deur Jesus Christus maak alles anders; bepaal die kwaliteit van hierdie lewe; bepaal die oorwinningsperspektief! Dis ‘n lewe in die teenwoordigheid van God (Coram Deo), dis ‘n lewe waarin ek weet: te midde van my eie gebrokenheid, waarvan die sonde so naby aan my is soos “môre”, is en bly ek in ‘n persoonlike verhouding met die Gans Andere, die Skeppergod; die God wat reeds oorwin en reeds die heerskappy het; die God wat in Christus my reeds vrygespreek het, vergewe het nou en vir altyd!
Soos Malan Nel sê: om uit genade te leef, is om anders te dink oor God; om in ‘n persoonlike verhouding met ‘n Persoon te staan, nie ‘n vreemde, misterieuse wese iewers daarbo nie? Dis om deel te hê aan die oorwinning!; om selfs mee te werk om die oorwinning te help realiseer.
Ek dank die Here vir ‘n wonderlike pa – ja, ons het baie vas gesit toe ek nog “judgemental” was; ‘n “grace-killer”. Maar hoe meer ek God en genade ontdek het, saam met God gehuil en gegroei het oor my eie gebrokenheid, hoe meer het ek my pa gesien vir wie hy is. En nou kan ek God geniet, nee, God eer as my hemelse Pappa! En al treur ek oor my gebrokenheid!!!, neem dit nooit die feit weg dat ek Sy kind is, en in ‘n persoonlike verhouding bly nie! Dis ‘n geloofsbelydenis, ‘n oorwinningsperspektief….al is baie nog vêr van oorwinning af!
SDG